JY HOORT HIER!
2025: Totdat Christus aan ons geopenbaar word.
Belangrikheid van Lidmaatskap
Lidmaatskap is meer as tradisie – dit is ’n verbintenis om saam as geloofsfamilie die Here te dien, mekaar te ondersteun en in geloof te groei.
By ons gemeente beteken dit om prakties deel te wees van die geloofsfamilie: saam aanbid, saam groei, saam dien en saam getuienis lewer in die gemeenskap.
Lidmaatskap is dus ’n uitnodiging om jou gawes en talente in te bring, saam in verhouding te groei, en ’n aktiewe deel van God se werk in en deur ons gemeente te wees.
Geloof in Praktyk
Geloof in
praktyk beteken om
jou geloof sigbaar te leef in jou alledaagse lewe – in hoe jy ander
behandel, die keuses wat jy maak, en hoe jy in gehoorsaamheid aan
God wandel. Geloof is nie net ’n deel van jou lewe nie, maar dit is wie
jy is. “En wat julle ook al doen … doen alles in die Naam van die
Here Jesus.” (Kolossense 3:17)
Ons glo dat
geloofsvorming ’n gesamentlike reis tussen die huis en die kerk is.
Die huis is dikwels waar gesinne hul geloof leef, terwyl die kerk dit
ondersteun. Huisgeloof gaan oor die bou van gewoontes wat help om God
se teenwoordigheid daagliks te ervaar en te deel.
Ware
dissipelskap beteken
om te leef soos Jesus – stap vir stap. “Wees daders van die woord en
nie net hoorders nie.” (Jakobus 1:22). Saam bou gesinne en die kerk aan ’n
geloofsfamilie.
Vir
hulpbronne kan gesinne dié webwerwe besoek:
Nagmaal
Elke eerste Sondag van die maand vier ons as gemeente saam Nagmaal. Dit is ’n heilige oomblik van herinnering aan Christus se kruisoffer en ’n viering van Sy oorwinning oor sonde en dood. Rondom die tafel word ons herinner dat ons deur Sy genade vergewe en vrygemaak is.
Nagmaal is ook ’n geleentheid om ons verbondenheid as geloofsfamilie te beleef – om saam dankbaar te wees en ons geloof te bely. Dit is ’n uitnodiging om in nederigheid te kom, met ’n oop hart, en God se teenwoordigheid vars te ervaar.
Moenie hierdie kosbare instelling mis nie – kom vier dit saam met jou gemeente en jou Here.
Geloofsdoop
Die doop is
’n belangrike geloofstap waarin jy in gehoorsaamheid jou vereenselwig met die
dood en opstanding van Jesus Christus. Dit is ’n openbare getuienis van jou
geloof en ’n vreugdevolle oomblik waarin jy God se genade en nuwe lewe
saam met jou geestelike familie vier.
“Deur die
doop is ons saam met Hom begrawe in die dood, sodat ons net soos Christus uit
die dood opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ook ’n nuwe lewe kan
lei.” (Romeine 6:4)
Daar is geen
vasgestelde ouderdom nie – sodra iemand die evangelie verstaan en glo, kan
hy/sy gedoop word. Babas word nie gedoop nie, maar tydens ’n kindertoewyding
aan die Here opgedra.
Kindertoewyding
Kindertoewyding
is ’n kosbare en spesiale oomblik in die lewe van ouers en
kinders. Dit is ook ’n geleentheid waar die geloofsgemeenskap
saam met die ouers God se seën oor hul kinders uitspreek.
Die
toewyding vind plaas tydens die erediens, waar ons die kinders verwelkom,
die ouers se gebed hoor en as gemeente saam vir hulle bid.
“Kinders
is ’n erfdeel van die Here, die vrug van die skoot is ’n beloning.” (Psalm 127:3)
Ons sien
daarna uit om hierdie vreugdevolle dag saam met jou, jou familie
en ons gemeente te vier.
Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.
Finansiële bydraes & Kollekte
Jou
bydrae maak ’n ewige verskil!
Wanneer jy gee, help jy ons gemeente om die evangelie te verkondig, die
gemeenskap te dien en praktiese behoeftes aan te spreek.
Ons bied verskeie
maniere waarop jy kan gee — tydens dienste, deur elektroniese
oorbetalings of ander veilige kanale. Elke skenking, groot of klein,
dra by tot God se werk deur AGS Miederpark.
“Elkeen
moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang
nie, want God het die blymoedige gewer lief.” – 2 Korintiërs 9:7
Dankie dat jy saam bou aan die Koninkryk
van God!
Bly op Hoogte
Wil jy seker
maak jy mis niks wat by AGS Miederpark gebeur nie?
- Volg ons Facebook-blad
vir nuus en aankondigings.
- Luister Sondae tydens die erediens
na belangrike inligting wat gedeel word.
- Kry jou maand-nuusbrief
by die info-punt in die kerk se ontvangslokaal.
Nog nie op
die gemeente WhatsApp-groep nie? Stuur jou besonderhede aan die
kerkkantoor – ons help jou graag om ingeskakel te bly.
Pastorale Sorg
Ons
gemeente glo dat niemand alleen deur die lewe hoef te gaan nie. Ons leraars en
span is beskikbaar vir:
- Persoonlike berading: Ons bied vertroulike berading
aan.
- Huisbesoeke: Word met graagte op versoek
gedoen. Kontak gerus vir Pastoor Tom om ‘n geskikte tyd te reël.
- Siekebesoek: Indien jy gehospitaliseer
word, is dit vir ons ‘n voorreg om by jou te wees en saam met jou te bid.
- Pastorale ondersteuning: In
uitdagende tye.
Huweliksbevestiging
’n
Huweliksbevestiging is ’n kosbare oomblik waar paartjies hul liefde en
toewyding aan mekaar voor God en hul geliefdes bevestig. Dit is ’n
geleentheid om saam dankie te sê vir die reis wat julle al tot hier voltooi
het, en om die Here se seën oor die toekoms van julle huwelik te vra.
Ons glo dat
God ’n doel het vir elke huwelik. Van die begin af het Hy die waarde van
huwelik en familie bevestig. Twee sal een word – ’n Goddelike verbintenis
wat ons eer as deel van Sy ontwerp. Daarom bid ons dat julle Sy doel vir julle
verhouding sal ontdek en uitleef.
“Gee eer
aan die huwelik en hou trou aan mekaar in die huwelik.” – Hebreërs 13:4
Begrafnis
Ons verstaan
dat die afsterwe van ’n geliefde ’n moeilike en hartseer tyd is. Ons bid
dat die Here jou mag dra en vertroos. Ons is hier om jou te ondersteun
en te help met die reëlings van die diens, sodat jy kan fokus op die
rouproses en die kosbare herinneringe aan jou geliefde.
Ons span
help met die beplanning en uitvoering van die begrafnisdiens:
- ’n Kerksaal vir die diens
- Onthaalgeriewe (saal en breekgoed - eie verversings, drinkgoed en servette)
- Teraardebestelling
- Mediafasiliteite soos aanlyn regstreekse
uitsending as ’n opsie
Kontak gerus
ons kerkkantoor vir kostes en reëlings.