JY HOORT HIER!

2025: Totdat Christus aan ons geopenbaar word.

lidmate
Belangrikheid van Lidmaatskap

Lidmaatskap is meer as tradisie – dit is ’n verbintenis om saam as geloofsfamilie die Here te dien, mekaar te ondersteun en in geloof te groei.

 

By ons gemeente beteken dit om prakties deel te wees van die geloofsfamilie: saam aanbid, saam groei, saam dien en saam getuienis lewer in die gemeenskap.

 

Lidmaatskap is dus ’n uitnodiging om jou gawes en talente in te bring, saam in verhouding te groei, en ’n aktiewe deel van God se werk in en deur ons gemeente te wees.

Geloof in Praktyk

Geloof in praktyk beteken om jou geloof sigbaar te leef in jou alledaagse lewe – in hoe jy ander behandel, die keuses wat jy maak, en hoe jy in gehoorsaamheid aan God wandel. Geloof is nie net ’n deel van jou lewe nie, maar dit is wie jy is“En wat julle ook al doen … doen alles in die Naam van die Here Jesus.” (Kolossense 3:17)

 

Ons glo dat geloofsvorming ’n gesamentlike reis tussen die huis en die kerk is. Die huis is dikwels waar gesinne hul geloof leef, terwyl die kerk dit ondersteun. Huisgeloof gaan oor die bou van gewoontes wat help om God se teenwoordigheid daagliks te ervaar en te deel.

 

Ware dissipelskap beteken om te leef soos Jesus – stap vir stap. “Wees daders van die woord en nie net hoorders nie.” (Jakobus 1:22). Saam bou gesinne en die kerk aan ’n geloofsfamilie.

 

Vir hulpbronne kan gesinne dié webwerwe besoek:

Bible Project
Dink Jeug
KIX Kinders
YouVersion
Geloof in Praktyk
Nagmaal
Nagmaal

Elke eerste Sondag van die maand vier ons as gemeente saam Nagmaal. Dit is ’n heilige oomblik van herinnering aan Christus se kruisoffer en ’n viering van Sy oorwinning oor sonde en dood. Rondom die tafel word ons herinner dat ons deur Sy genade vergewe en vrygemaak is.

 

Nagmaal is ook ’n geleentheid om ons verbondenheid as geloofsfamilie te beleef – om saam dankbaar te wees en ons geloof te bely. Dit is ’n uitnodiging om in nederigheid te kom, met ’n oop hart, en God se teenwoordigheid vars te ervaar.

    

Moenie hierdie kosbare instelling mis nie – kom vier dit saam met jou gemeente en jou Here. “Want elke keer as julle hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.” (1 Kor 11:26)

Geloofsdoop
doop

Die doop is ’n belangrike geloofstap waarin jy in gehoorsaamheid jou vereenselwig met die dood en opstanding van Jesus Christus. Dit is ’n openbare getuienis van jou geloof en ’n vreugdevolle oomblik waarin jy God se genade en nuwe lewe saam met jou geestelike familie vier.

 

“Deur die doop is ons saam met Hom begrawe in die dood, sodat ons net soos Christus uit die dood opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ook ’n nuwe lewe kan lei.” (Romeine 6:4)

 

Daar is geen vasgestelde ouderdom nie – sodra iemand die evangelie verstaan en glo, kan hy/sy gedoop word. Babas word nie gedoop nie, maar tydens ’n kindertoewyding aan die Here opgedra.

Kindertoewyding
Kindertoewyding

Kindertoewyding is ’n kosbare en spesiale oomblik in die lewe van ouers en kinders. Dit is ook ’n geleentheid waar die geloofsgemeenskap saam met die ouers God se seën oor hul kinders uitspreek.

 

Die toewyding vind plaas tydens die erediens, waar ons die kinders verwelkom, die ouers se gebed hoor en as gemeente saam vir hulle bid.

“Kinders is ’n erfdeel van die Here, die vrug van die skoot is ’n beloning.” (Psalm 127:3)

 

Ons sien daarna uit om hierdie vreugdevolle dag saam met jou, jou familie en ons gemeente te vier.

Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom. 

HEBREËRS 10:24-25
Finansiële bydraes (1)
Finansiële bydraes & Kollekte

Jou bydrae maak ’n ewige verskil! Wanneer jy gee, help jy ons gemeente om die evangelie te verkondig, die gemeenskap te dien en praktiese behoeftes aan te spreek.

 

Ons bied verskeie maniere waarop jy kan gee — tydens dienste, deur elektroniese oorbetalings of ander veilige kanale. Elke skenking, groot of klein, dra by tot God se werk deur AGS Miederpark.

 

“Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.” – 2 Korintiërs 9:7

 

Dankie dat jy saam bou aan die Koninkryk van God!

Klik hier
Bly op Hoogte
Bly op hoogte

Wil jy seker maak jy mis niks wat by AGS Miederpark gebeur nie?

 

  • Volg ons Facebook-blad vir nuus en aankondigings.
  • Luister Sondae tydens die erediens na belangrike inligting wat gedeel word.
  • Kry jou maand-nuusbrief by die info-punt in die kerk se ontvangslokaal.

 

Nog nie op die gemeente WhatsApp-groep nie? Stuur jou besonderhede aan die kerkkantoor – ons help jou graag om ingeskakel te bly.

Pastorale Sorg
Pastorale Sorg

Ons gemeente glo dat niemand alleen deur die lewe hoef te gaan nie. Ons leraars en span is beskikbaar vir:

 

  • Persoonlike berading: Ons bied vertroulike berading aan.
  • Huisbesoeke: Word met graagte op versoek gedoen. Kontak gerus vir Pastoor Tom om ‘n geskikte tyd te reël.
  • Siekebesoek: Indien jy gehospitaliseer word, is dit vir ons ‘n voorreg om by jou te wees en saam met jou te bid.
  • Pastorale ondersteuning: In uitdagende tye.
Huweliksbevestiging
Troubevestiging

’n Huweliksbevestiging is ’n kosbare oomblik waar paartjies hul liefde en toewyding aan mekaar voor God en hul geliefdes bevestig. Dit is ’n geleentheid om saam dankie te sê vir die reis wat julle al tot hier voltooi het, en om die Here se seën oor die toekoms van julle huwelik te vra.

 

Ons glo dat God ’n doel het vir elke huwelik. Van die begin af het Hy die waarde van huwelik en familie bevestig. Twee sal een word – ’n Goddelike verbintenis wat ons eer as deel van Sy ontwerp. Daarom bid ons dat julle Sy doel vir julle verhouding sal ontdek en uitleef.

 

“Gee eer aan die huwelik en hou trou aan mekaar in die huwelik.” – Hebreërs 13:4

Begrafnis
Begrafnis

Ons verstaan dat die afsterwe van ’n geliefde ’n moeilike en hartseer tyd is. Ons bid dat die Here jou mag dra en vertroos. Ons is hier om jou te ondersteun en te help met die reëlings van die diens, sodat jy kan fokus op die rouproses en die kosbare herinneringe aan jou geliefde.

Ons span help met die beplanning en uitvoering van die begrafnisdiens:

 

  • ’n Kerksaal vir die diens
  • Onthaalgeriewe (saal en breekgoed - eie verversings, drinkgoed en servette)
  • Teraardebestelling
  • Mediafasiliteite soos aanlyn regstreekse uitsending as ’n opsie

 

Kontak gerus ons kerkkantoor vir kostes en reëlings.

Ons is bly dat jy deel is van God se plan hier by AGS Miederpark 🧡
Kontak gerus die kerkkantoor vir hulp of enige verdere inligting
agssuid@gmail.com | Landlyn: 018 293 0142 | WhatsApp: 067 360 9024